Call Centre: 0861 00 8272

Hê ,’n HART VIR MENSE

Jesus self het ‘n hart gehad vir armes,  verdruktes, siekes, gebreklikes,weduwees en wese. Hy het mense wat siek was, of deur duiwels besete

was, een vir een hande opgelê en hulle gesond gemaak. By twee geleenthede het Hy enkele broodjies en vissies vermeerder, genoeg om groot groepe  mense wat na Hom geluister het , kos te gee. Hy het selfs dooies opgewek en hulle aan hulle dierbares teruggegee.

Jesus het dit nie net gelewe  om vir ander om te gee nie,maar dit ook gepredik.  In Deut.15:10 sê God “Gee vrylik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak”. Johannes vra dan ook tereg “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly maar geen gevoel vir hom het nie --  hoe kan die liefde van God in hom wees?”( 2Joh.3:17). Fil.2:4 lui:” Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van die ander”. Kanse kom egter dikwels net een maal na ons kant toe om vir iemand iets te beteken soos wat ek in WEES ‘N VUURTORING IN JOU WERK  beskryf het.

Toe ‘n mens nog die Rietvleidam hier tussen Pretoria en Irene kon besoek het slegs met ‘n permit van die stadsraad, het ek so ‘n permit bekom. Een Saterdagoggend het ek gewapen met die permit na die dam se ingang gery om die wêreld te verken vir wanneer my gesin en ek die dam later sou kom  besoek.

Terwyl ek praat met die hekwag met die permit in my hand, hou daar ‘n bakkie stil met mense wat wou kom visvang. Die bakkie was agter vol kinders wat opgewonde uitgesien het na die uitstappie -  dit was oënskynlik ‘n baie behoeftge gesin. Ek hoor hoe die hekwag vir die bestuurder van die bakkie sê dat sonder ‘n permit hulle daar nie kan in nie. Toe hy dit vir die kinders sê, kom daar ‘n doodse stilte; ek sien nog in my geestesoog die intense teleurstelling in hulle oë, maar hulle aanvaar dit gelate. Hulle het toe op die snelweg in ‘n Noordelike rigting weggery en ek ry toe ook. Toe ek halfpad oppad huis toe was, besef ek dat ek my permit vir hulle kon gegee het en net maar  weer een kon kry. Ek jaag terug ‘n ent met die snelweg – maar hulle is weg --  vir altyd. Ek sien steeds daardie ongelukkige  kindergesiggies voor my – al het God my lankal vergewe dat ek nie hierdie groepie mense se belange bo my eie gestel het nie.